Geskiedenis van die Skool
Hierdie besonderse skool het in 2002 ontstaan as gevolg van Marthie de Bruin se passie vir kinders met leerprobleme en gestremdhede. Dié hartsbesluit het voortgespruit uit haar persoonlike ervaring om ‘n skool vir leerders met spesiale behoeftes vir haar eie seun te vind. Marthie was alreeds sedert 1981 ‘n gekwalifiseerde onderwyser toe sy in Januarie 2002 deur ’n arbeidsterapeut gevra word om ‘n remediërende klas waar te neem. Die praktyk word intussen verkoop en 6 leerders met spesiale behoeftes is sonder ‘n heenkome. Marthie besluit om dié leerders te akkomodeer en rig ‘n klas in ‘n buitevertrek by haar huis in. Gou word die fasiliteite onvoldoende en word daar gewoeker om aan te bou. ‘n Kombuis, terapiekamer, 2 klaskamers en badkamers word toegevoeg om in die groeiende leerdertal se behoeftes te voorsien.
Aanvanklik word daar leerders met matige intellektuele gestremdhede (MID) ingeneem en later ook leerders met outisme en ADHD. Die skool is inklusief en in 2003 voltooi die eerste graad 12 leerders suksesvol hul eksamen deur Intec Kollege.
Die skool word in 2003 by die Departement van Onderwys geregistreer en nog leerders voltooi graad 12 met sukses. Marthie het egter steeds ‘n behoefte gehad vir ‘n ge-akkrediteerde program vir leerders wat nie die potensiaal het om tot graad 12 te vorder nie. Die droom was om waarde tot hierdie spesifieke leerders se lewe toe te voeg en hul te bemagtig om ‘n toekoms vir hulself te skep. In 2019 gryp sy die geleentheid aan en begin ‘n Tegniese Arbeidsgerigte Fase (TOC) wat hierdie leerders kan akkomodeer. Vakke wat aangebied word sluit onder meer Vroeë Kinderontwikkeling, Landbou en Verbruikerstudie in. Hierdie 4 jaar kursus gee die leerders die geleentheid om akademies sowel as emosioneel verder te ontwikkel.
Die totstandkoming van die Tegniese Arbeidsgerigte Fase (TOC) in 2018 dra by tot die besluit om die FET fase uit te fasseer en die aandag op die matige intellektuele leerders te fokus. Die FET fase word suksesvol afgesluit met ‘n 100% slaagsyfer en universiteitsvrystelling vir al die matriekleerders van 2021.
Met die hulp van ons Hemelse Vader, passievolle onderwysers en ouers, glo ons dat die skool nog vir lank ‘n veilige hawe vir ons spesiale leerders sal wees.