Welkom

  Marthie de Bruin Akademie is ‘n Afrikaanse, Christelike, onafhanklike skool vir leerders met spesiale behoeftes. Ons maak voorsiening vir veral die MID leerder (matig intellektuele gestremde) maar bied ook ‘n heenkome vir leerders met meer ernstige behoeftes.

Om die spesiale behoeftes van leerders in ag te neem, plaas ons nie meer as sewe leerders in ‘n klas nie. Sodoende word verseker dat elke leerder individuele aandag ontvang en dat daar gefokus kan word op hul individuele behoeftes.

Leerderontwikkeling vind plaas in verskeie areas: fisies, kognitief, taal, sosiaal en emosioneel. 

Marthie de Bruin Akademie bied aan die leerder ‘n veilige, geborge Christelike omgewing waar elke leerder begelei word om sy/haar volle potensiaal te kan bereik.

Die volgende word by die skool aangebied:

‘n Akademiese grondslagfase: Fase 1 – 3 wat  binne die leerder se akademiese vermoë, volgens die CAPS kurrikulum aangebied word.

‘n Akademiese middelfase: Graad 4 – 7 wat binne die leerder se akademiese vermoë aangebied word.

‘n Tegniese Arbeidsgerigte kurrikulum (TOC): 14 – 18 jaar. 

‘n Junior en Senior Vaardigheidsklas wat voorsiening maak vir leerders wat nie die akademiese baan kan volg nie.

        ‘n Jong Volwassene Groep: 18 jaar+. Hier word vaardighede vasgelê en nuwe vaardighede aangeleer.  

    Die skool bied ook Naskool aan.

Marthie de Bruin Akademie is by die Instituut vir Christelike Onderwys (ICO) geaffilieer en het ‘n Christelike grondslag waarop alle lesse gebasseer word.  Hier kan leerders nie net akademiese kennis opdoen nie, maar ook morele en geestelike beginsels ontwikkel.